1
hoeveel mense? Maak alles skoon
 
 
1 Alle Vlugte Kies Klas
  • Alle Vlugte
  • Slegs direkte

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon
Retoer
Eenrigting
Multistad
Vertoon meer
datums
 

Inligting

Moenie dink omdat São Paulo as die sakehoofstad van Brasilië beskou word, dat hierdie stad enigsins afsteek by sy flambojante suster Rio de Janeiro nie. Dis ’n stad waar jy waarlik kos, kultuur en vermaak sal beleef wat hemelsbreed van Suid-Afrika s’n verskil. Suid-Afrikaners kry boonop visumlose toegang tot Brasilië, mits hulle kuier korter as 90 dae is. Maak jou gereed om die Brasiliane van naderby te leer ken. Hulle het ’n heeltemal ander konsep van persoonlik spasie as Suid-Afrikaners!

 

Vlugte

Die vernaamste lugdienste bied vlugte na Brasilië: Emirates Airlines, British Airways, Ethiopian Airlines, KLM en Qatar Airways. Jy sal heeljaar vlugte teen afslagpryse na São Paulo kan opraap, maar ons raad is om so ver as moontlik vooruit te bespreek.

 

Kyk en Doen

Hierdie is nie ’n stad wat jy op ’n “tref-en-trap”-vakansie kan kafdraf nie. As jy waarlik São Paulo wil beleef, moet jy deur sy minder bekende woonbuurte drentel en die lewe van die Paulistanos beleef. Hier sal jy afkom op ’n eetplekkie, winkel of muurskildering wat nog nie in toeristegidsboeke opgeneem is nie. Kunsliefhebbers kan ’n dag in die buurt Luz deurbring, waar jy die Sacred Art-museum, die Portugese Museum en die Pinacoteca do Estado aantref. As jy die werk van wêreldbekende kunstenaars soos Picasso, Modigliani en Chagall wil beleef, besoek die Museum de Arte Contemporânea, wat net buite die bekende Parque de Ibirapuera is. As jy egter aan São Paulo dink, dink jy aan die musiek en naglewe, die hartklop van die stad. Hier gaan jy dans tot die klein ure van die nag – van die tradisionele salsa en die sertanejo, tot by rock n roll en electronica. Die stad bruis van dansplekke, maar die bekendstes is in Vila Madalena, Itaim Bibi, die middestad en Barra Funda.

 

Inkopies

Ongeag of jy nou gesofistikeerde items, goedkoop aandenkings of sommer net lekker eetgoed soek, São Paulo bied iets vir almal. Hier is luukse winkelsentrums, boheemse straatstalletjies, en byna 60 tematiese straatmarkte. Jy sal vinnig sien hoekom São Paulo nie net Brasilië se grootste handelsentrum vir toeriste is nie, maar ook vir die locals. Die tophandelsmerke vind jy in die boomryke straat Rua Oscar Freire. Dis egter op die markte waar jy Suid-Amerika sal sien lewe kry, en waar jy die plaaslike cuisine sal proe. Mercado Municipal en Mercado Municipal de Pinheiros word vir hul kos aanbeveel. Vir antiekwinkels, besoek die Benedito Calixto-plein op Saterdae en Feira de Antiguidades do MASP op Sondae. Vir die beste Brasiliaanse ontwerpers (skoene, klere, binnenshuise versiering en geskenke) kies koers na die boheemse Vila Madalena. As jy moeg word, swaai by een van die plaaslike watergate in – daar is baie!

 

Vervoer

Guarulhos (GRU) is die stad se vernaamste lughawe en WegReis beveel aan dat nuwelinge in São Paulo die taxi gebruik om van daar af tot by hul verblyf te kom. As jy eers in die stad is, is die metro- en busstelsel die maklikste manier om oor die weg te kom. As jy ’n bietjie meer tyd het, verken die stad op die Weg-manier: te voet! Centro, Jardins, Vila Madalena en Higienópolis is lekker buurte en veilig in die dag. Kyk net uit vir motorfietse as jy die straat oorsteek.

 

Verblyf

Jy sal sakpasverblyf in bekostigbare hotelle en jeugherberge in São Paulo kry. Vergelyk die pryse op WegReis om skoon, bekostigbare verblyf in die stad te kry. Die gewildste buurte vir toeriste is Vila Madalena, Itaim Bibi, Pinheiros, Liberdade en Moema. As jy vooraf bespreek, sal jy lekker afslagverblyf in Januarie en Februarie kan bespreek. As dit jou eerste keer in die stad is, is Centro dalk ’n goeie opsie omdat dit naby aan die museums en besienswaardighede is. Kyk ook uit vir sakpasmoontlikhede in Vila Madalena. As jy lus het vir die naglewe, bespreek in Baixo Augusto. Trendy toeriste hou meestal van Liberdade en gesinne van Moema.

 

WegReis sê

As die stadsgedruis nie jou ding is nie, kies die buurt Moema. Hier sal jy boomryke lanings sien en heelwat restaurante en straatkafees. Die buurt grens aan die bekende Ibirapuera-park, wat verskeie sportsoorte huisves is. Jy kan ook in die park ’n bietjie van die verkeer ontsnap. Daar is heelwat klein stalletjies wat straatkos verkoop, of bring jou piekniek saam. Kyk uit vir die Auditorium wat deur Oscar Niemeyer ontwerp is en museums soos die Oca de Ibirapuera. As jy ’n sagte plekkie vir Japan het, besoek Liberdade – die tuiste van die grootste groep Japannese buite Japan. Jy sal uiteraard hier die beste soesji in die stad kry. Lus vir iets aweregs? Gaan na Beco do Batman (“Batman’s Alley”) in Vila Madalena. Hier kan jy saam met ’n ikoniese muurskildering van Batman afgeneem word.