1
hoeveel mense? Maak alles skoon
 
 
1 Alle Vlugte Kies Klas
  • Alle Vlugte
  • Slegs direkte

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon
Retoer
Eenrigting
Multistad
Vertoon meer
datums
 

Inligting

Dis die stad van die Lords-krieketveld, Twickenham-rugbyveld en Wimbledon. Dis ook die tuiste van Harrods en Buckingham-paleis, Big Ben, die London Eye, Westminster-abdy en die West End. Dis eenvoudig ’n stad wat jy een maal in jou lewe móét beleef! Suid-Afrikaners het ’n visum nodig vir die Britse Eilande (Engeland, Wallis en Skotland – maar Ierland kan jy sonder ’n visum besoek). Daar is ’n Britse konsulaat in Kaapstad en Pretoria. Huur ’n motor vanaf die Heathrow-lughawe en besoek ook die Britse platteland: Bath, Windermere, Stratford-Upon-Avon, Oxford en Canterbury is net enkeles wat ’n besoek werd is. In die Mere-distrik is daar heelwat wandelpaaie en die Peak-distrik het ’n pragtige nasionale park.

 

Vlugte

Jy kan van enige van die groot lughawens in Suid-Afrika direk na Londen vlieg. Heathrow en Gatwick is die twee grootste lughawens. Luton en Stanstead is effens uit die stad uit, maar baie vlugte vertrek van hier af na Europese hoofstede.

 

Kyk en Doen

Besoekers wat vir die eerste keer in Londen kom, kan kies en keur tussen die besienswaardighede. Die geskiedenis van die stad dateer terug tot die Romeinse tyd. Londen het verskeie pragtige parke en tuine, soos Hyde Park, Hampstead Heath en St. James-park. Die stad huisves van die beste kunsversamelings ter wêreld in die Tate Modern, die National Portrait Gallery en die V&A-museum, waar jy werke van Kandinsky, Caravaggio, Modigliani en Rembrandt van Rijn kan sien. Boonop is toegang tot baie van hierdie museums gratis. As jy met kinders reis, besoek Madame Tussauds, die Londense dieretuin en die Akwarium. Jonk en oud sal ook ’n rit op die reusewiel die London Eye geniet.

 

Inkopies

Londen is ’n groot inkopiebestemming. Beleef die swierige Oxford Street, en die antiekwinkels in Brick Lane, Hackney en Portobello Road. Die afdelingswinkel Harrods is iets om te sien, so ook die sesverdiepingwinkel Selfridges in Oxford Street. As jy nie in die duur handelsmerke belangstel nie, neem die Noordelike treinlyn na Camden. Hier is net net mooi klere, skoene, boeke, en juweliersware nie, maar ook lekker straatkos en lewendige musiek. Fynproewers kan ook die Borough-mark op hul lys sit, een van die oudste en grootste kosmarkte in Londen.

 

Vervoer

Jy kan in Londen tjop-tjop van punt A na punt B kom, danksy die moltreinstelsel, of “tubes”, soos die Britte dit noem. Die trein- en busstelsel loop vanaf die middestad na al die grootste lughawens aan die buitewyke. Jy kan dagpasse koop of ’n Oyster-kaart as jy ’n paar dae gaan bly. As die weer nie te mistroostig is nie, trek jou stapskoene aan en verken Londen op die Weg-manier: te voet! Laai vooraf ’n kaart vir die moltreinstelsel op jou foon af en reis soos die locals.

 

Verblyf

Jy kry in elke buurt in Londen goeie verblyfopsies wat wissel van sakpashotelle tot luukse vyfsterhotelle. Vanweë die goeie openbare vervoerstelsel is dit nie nodig dat jy naby aan die toeriste-aantreklikhede bly nie.

 

WegReis sê

Die Southbank is die hart van Londen se kulturele lewe en die beste plek van waar jy foto’s van ikoniese bakens soos die Big Ben, London Eye en St. Paulskatedraal kan neem. Stap langs die Teems en loer in by die Foyles-boekwinkel. Net anderkant die Teems is Covent Garden, waar jy die lekkerste koffiewinkels, restaurante en teaters sal sien. Die geleentheid om die Bokke op Twickenham te sien speel is op baie Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners se emmerskoplys.