1
hoeveel mense? Maak alles skoon
 
 
1 Alle Vlugte Kies Klas
  • Alle Vlugte
  • Slegs direkte

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon
Retoer
Eenrigting
Multistad
Vertoon meer
datums
 

Inligting

Jy kan goedkoop vlugte na Kaapstad by die meeste plaaslike lughawens in Suid-Afrika koop. South African Airways word al vir jare as die beste lugdiens beskou. Kalula.com en Mango is die land se gewildste en vermaaklikste lugdienste en bied goedkoop vlugte na Kaapstad Internasionale Lughawe. FlySafair is verreweg die goedkoopste lugdiens vir plaaslike vlugte.

 

Vlugte

Direkte vlugte na Kaapstad is beskikbaar vanaf Johannesburg, Durban, Bloemfontein, Port Elizabeth, Oos-Londen, George, Kimberley en Hoedspruit. Die geskatte reistyd wissel tussen 1½ uur tot 2 uur. Kaapstad Internasionale Lughawe is ongeveer 20 km van Kaapstad se middestad af. Daar is ’n aantal maniere om van en na die lughawe te reis. Jy kan ’n motor huur, ’n Uber of taxi neem, op die MyCiTi-bus klim of ’n pendeldiens gebruik. Die MyCiTi-bus ry daagliks tussen 05:30 vm. en 9:30 nm. en ry tussen die lughawe en die Burgersentrum, vanwaar jy op die ander roetes kan klim. Jy het ’n myconnect-kaart nodig, wat R35 kos, en op die lughawe en by sommige MyCiTi-stasies beskikbaar is. Die meeste groot motorverhuringsmaatskappye is beskikbaar en net buite die hoofterminaal geleë. Daar is ook pendeldienste beskikbaar.

 

Kyk en Doen

In 2014 het The New York Times en die Daily Telegraph Kaapstad aangewys as die beste plek ter wêreld om te besoek. Die majestueuse Tafelberg span die kroon oor dié stad vol lewendige kulture, kookkuns en lieflike landskappe. Kaapstad is die perfekte reisbestemming vir natuurliefhebbers, avontuursoekers, nag(lewe)uile én geskiedenisliefhebbers. Die stad het ’n merkwaardige en roerende geskiedenis wat jy kan beleef deur ’n besoek aan bekende museums soos Distrik 6 en Robbeneiland. Die Zeitz Mocca, ’n skouspelagtige museum vir kontemporêre kuns in die hartjie van die stad, het ook ’n gewilde attraksie geword. Die geskiedkundige Kompanjiestuin, Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin en Groenpunt Stedelike Park is pragtig ontwikkelde gebiede wat die verkenning van die stad ’n plesier sal maak. Die V&A Waterfront is ’n bedrywige vermaakkern waar jy van die beste restaurante en sjefs in Suid-Afrika kan vind. Die immergewilde Clifton-strand spog met ’n spierwit strand, omring deur gladde granietrotse en sprankelende blou golwe. Verken die ander kant van die Skiereiland al langs die kronkelpad Chapmanspiekrylaan, stop vir ’n seekosfees by Houtbaai of Noordhoek en gaan kyk by Kaappunt waar die strome van die Indiese en die Atlantiese Oseaan bymekaarkom. Maak seker jy ruim tyd in vir ’n wynplaas om van die Kaapse wyne te proe en moenie die oulike pikkewyne by Boulders-strand misloop nie.

 

Inkopies

Die plek in Suid-Afrika wat die meeste besoekers lok, die V&A Waterfront, kombineer ’n pragtig ontwerpte winkelsentrum, ’n skilderagtige hawe met Tafelberg in die agtergrond en ’n verskeidenheid hotelle, geskiedkundige monumente en opwindende gesinsvriendelike aktiwiteite. Vir inkopies is dit die beste plek in Kaapstad. Volg dit op met ’n plesiervaart vanaf die hawe en middagete met vars koningklip of garnale by Harbour House of soesji by Willoughby & Co. Die Watershed Design Market is die perfekte plek as jy op soek is na plaaslike handwerk. Kaapstad bied heerlike inkopie-areas, soos Lang- en Breestraat en die Groentemarkplein. Op Saterdae is daar ’n allerhande markte, waarvan die Old Biscuit Mill Neighbourgood’s Market een van die gewildstes is.

 

Vervoer

Met soveel om in Kaapstad te sien en te beleef, wil jy rondrits na ál die attraksies om jou vakansie ten volle te benut. Met die veilige en betroubare MyCiti-bus kan jy vanaf die middestad tot by die meeste besienswaardighede ry. Daar is ook ’n direkte bus vanaf die lughawe tot in die hartjie van die stad. As jy nie ’n motor gaan tydens jou verblyf gaan huur nie, sal jy waarskynlik in ’n stadium private vervoer moet gebruik. Jou veiligste en goedkoopste opsie is om ’n Uber te kontak. Die rooi opspring-afspring-dubbeldekkerbusse is die gewildste manier om besienswaardighede tydens ’n dagtoer te besoek. Kaapstad is die perfekte plek om te voet te verken en die lewendige, kleurryke stad te ervaar en die talle besienswaardighede te ontdek.

 

Verblyf

Die beste hotelle in Kaapstad is nie net beperk tot gebiede met maklike toegang tot top-besienswaardighede soos die hange van Tafelberg en die V&A Waterfront nie. Elk van Kaapstad se groot verskeidenheid woonbuurte spog met hul eie besienswaardighede, mense en kookkuns. Of jy nou vir ’n luilekker strandvakansie gekom het of om die lewendigheid van hierdie energieke stad te ervaar, daar is ’n verskeidenheid keuses, van goedkoop en Airbnb tot luukse verblyf soos die MannaBay- en Compass House-boetiekhotelle en die immergewilde Belmond Mount Nelson-hotel.

 

WegReis sê

Dit is geen geheim dat Tafelberg die mees gefotografeerde baken in Suid-Afrika is nie. Suid van die middestad toring dié natuurwonder 1 087 meter hoog en span die kroon oor Kaapstad. As dit ’n helder, onbewolkte dag is en jy nie vir ’n kort tydjie in Kaapstad is, is die bopunt van Tafelberg die gewildste bestemming. Daar is baie soorte plante en blomme wat endemies is aan hierdie berg, en ’n lekker restaurant met ’n ongelooflike uitsig oor die stad. Vir avontuurliefhebbers wat die berg te voet wil klim, is daar 350 verskillende roetes van wisselende moeilikheidsgrade om die kruin te bereik. As jy nou nie só energiek voel nie, ry met die roterende kabelkarretjie boontoe, wat die afstand van 1 244 meter binne sewe minute aflê. Die kabelkarrit bied jou lieflike uitsigte oor die Moederstad, Robbeneiland en die Skiereiland. Om ’n fantastiese uitsig op Tafelberg, stap of ry Seinheuwel of Leeukop uit –albei bied uitstekende uitsigte om die berg af te neem.