1
hoeveel mense? Maak alles skoon
 
 
1 Alle Vlugte Kies Klas
  • Alle Vlugte
  • Slegs direkte

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon
Retoer
Eenrigting
Multistad
Vertoon meer
datums
 

Inligting

Vlugte na Hongkong land by die Hongkong- internasionale lughawe, een van die besigste passasierslughawens ter wêreld en sy besigste deurgang vir vragte. Die afstand vanaf die Hongkong-lughawe na die middestad is ongeveer 40 km. Direkte vlugte vanaf Johannesburg na Hongkong is beskikbaar met Cathay Pacific en South African Airways, of jy kan van OR Tambo Internasionaal na Hongkong vlieg via Doebai (Emirates), Doha (Qatar Airways), Singapoer (Singapore Airlines) en ander groot reissentra. Verlede jaar het Cathay Pacific direkte vlugte vanaf Hongkong na Kaapstad bekend gestel, maar slegs gedurende die hoogseisoen (November tot Februarie). As jy met ’n Suid-Afrikaanse paspoort na Hongkong reis, is jy nie ’n toeristevisum vir Hongkong nodig vir verblyf van tot 30 dae nie. Jou paspoort moet tot minstens 30 dae ná jou terugkeerdatum geldig wees. Hongkong raak al gewilder as toerismebestemming vir Suid-Afrikaners. Met die stad se neonverligte silhoeët van argitektoniese wonders, is Hongkong ’n paradys vir kosliefhebbers, kooplustiges en – glo dit of nie – stappers, met ongeveer 70% van Hongkong se totale oppervlakte wat uit berge en platteland bestaan. Van kulturele ervarings en mode tot gesinsaktiwiteite en naglewe, hierdie ikoniese, kosmopolitiese stad bied jou dit alles.

 

Vlugte

Of jy nou direk van Johannesburg na Hongkong of via ’n ander stad vlieg, jy land op die Hongkong Internasionale Lughawe, wat 24 uur per dag werk en die tuiste is van een van die grootste passasiersterminaalgeboue ter wêreld. Dit is die primêre spilpunt vir Cathay Pacific, Cathay Dragon, Hongkong Airlines, Hongkong Express Airways en Air Hongkong (’n vragvervoerder). Direkte vlugte vanaf Johannesburg na Hongkong duur net minder as 13 uur. Die afstand tussen die Hongkong-lughawe en die middestad is ongeveer 40 km en die Airport Express is een van die vinnigste en doeltreffendste maniere om tussen die twee te reis. Busse is ’n goedkoper opsie, en ’n busrit vanaf Hongkong-lughawe na Sentraal duur ongeveer 45 minute en net so 30 minute na Kowloon. Jy kan ook ’n taxi vat, maar dit kan duur en verwarrend wees.

 

Kyk en Doen

Victoria-hawe is een van die grootste besienswaardighede in Hongkong, omring deur ’n ikoniese stadsilhoeët van enorme wolkekrabbers wat snags met ’n asemrowende neonvertoning verlig word. Die Star-veerboot, wat as passasiersdiens en toeristeaantreklikheid diens doen, is ’n goedkoop, prettige manier om die hawe te beleef en van Hongkong-eiland by Kowloon uit te kom. Ongelooflike uitsigte oor Hongkong kan ook gesien word as jy met die trem teen Victoria-piek uitry. Dit is Hongkong-eiland se hoogste punt van. Hier sal jy ’n hele kompleks met uitsigterrasse, winkels, restaurante en ’n Madame Tussaud-wasmuseum sal vind. Die Temple Street-nagmark, wat ná donker begin lewe kry, is ’n vrolike karnaval van kibbel oor pryse vir goedkoop klere, horlosies, kookgerei, aandenkings en vals Gucci-beursies (plus baie ander vervalsings). Die straat en systrate spog met ’n fantastiese verskeidenheid restaurante met Kantonnese seekos, Japannese kos, Italiaanse pizza, Indiese geregte, noem maar op. Die damesmark is beslis ook ’n besoek werd om jou kibbelvaardighede te oefen, en daar is veel meer as net vroueklere en -bykomstighede te koop! Kinders sal mal wees oor ’n besoek aan Hongkong se Disneyland of Ocean Park, waar jy opwindende wipwaentjieritte, reuse-pandas en ’n akwarium van wêreldgehalte sal vind. SoHo en Lan Kwai Fong is fantastiese buurte om van Hongkong se ongelooflike restaurante en kroeë te beproef, terwyl Lantau-eiland ’n skilderagtige kabelkarrit bied om die brons Tian Tan Boeddha en die Po Lin-klooster te besigtig. Hierdie eiland staan bekend as die “longe van Hongkong” danksy sy oorvloed inheemse woude.

 

Inkopies

Inkopies in Hongkong is waarlik wêreldklas en die opsies is eindeloos. Causeway Bay word beskou as een van die voorste winkelmekkas in die wêreld, en jy het baie tyd (én die begroting om daarby te pas!) nodig om reg daaraan te laat geskied. Tsim Sha Tsui is ook ’n baie gewilde inkopiedistrik in Hongkong, met Oosterse ontwerpersname en wêreldberoemde handelsmerke. In Admiralty en Central, die deftige Pacific Place en verskillende Landmark-winkelsentrums, wat almal met bedekte wandelgange verbind is, is ook goeie plekke om te soek vir ontwerpersname. IFC is die grootste winkelsentrum in Central, met die jongste modes en eksklusiewe handelsmerke van Maje tot Massimo Dutti. In SoHo sal jy kunsgalerye en boetieks wat elegante klere verkoop tussen wonderlike restaurante kry. Van sportklere tot sy, jy sal klere, bykomstighede en handwerk in die Stanley-distrik kry, en Wan Chai is die plek as jy opsoek is na meubels en enigiets wat met tegnologie uit te waai het. Gaan kyk in Spring Garden Lane vir afslagklere. As jy opsoek is na straatmarkte, kry koerds na die beroemde Temple Street-nagmark of die Ladies Market vir winskopieklere (daar is mansklere ook te koop) en die fassinerende goudvismark. Of gaan verken die ou Sheun Wan-woonbuurt om eklektiese winkels en markte te ontdek wat Chinese medisyne en meer verkoop.

 

Vervoer

Openbare vervoer in Hongkong bestaan uit ’n goed ontwikkelde netwerk van treine, veerbote, busse, trems en taxi’s. Met een van die veiligste, doeltreffendste en gereeldste openbare vervoerstelsels ter wêreld, het jy baie maniere om van punt A by punt B uit te kom. As jy op ’n spesifieke dag baie gaan reis, oorweeg dit om ’n toeristedagkaartjie te koop wat jou onbeperkte toegang bied tot die hoof-MTR (Mass Transit Railway) en sekere Light Rail-lyne. Koop andersins ’n herlaaibare Octopus-kaart wat op bykans alle vorme van openbare vervoer in Hongkong gebruik kan word. Busse en minibusse is ’n goeie manier om te reis, veral as jy die suidekant van Hongkong-eiland en die New Territories gaan verken. Die veerboot is nie net ’n goedkoop manier van vervoer tussen Hongkong-eiland en Kowloon nie, maar ook ’n wonderlike manier om die hawe se asemrowende besienswaardighede te sien. In Hongkong is huurmotors nie te duur in vergelyking met ander groot stede nie, maar dit is steeds nie die goedkoopste manier om in Hongkong rond te rits nie. Voor jy ’n taxi naderwink, onthou van die verskillende kleure. Rooi taxi’s is waarskynlik wat jy nodig het. Hulle bedien stedelike gebiede, insluitend die hele Hongkong-eiland en Kowloon. Groen taxi’s ry in die New Territories en blou taxi’s ry net op Lantau-eiland.

 

Verblyf

Om verblyf in Hongkong te bespreek kan oorweldigend voel omdat daar so ’n enorme hoeveelheid opsies is en die plekname onbekend is. Daar is alles van die beste hotelgroep – teen ’n prys – tot goedkoop verbly, maar dit is altyd ’n goeie idee om jou verblyf te beplan volgens die omgewing waar jy wil bly. Central is gewild onder toeriste omdat dit so naby baie van Hongkong se belangrikste besienswaardighede is. Tsim Sha Tsui is net 15 minute ver en is ideaal vir kroeë, kafees, buitemuurse markte (met juweliersware, snuisterye en eksotiese vrugte) en toegang tot die veerboothawe. Vir inkopies is Causeway Bay ’n goeie keuse, terwyl Mong Kok, met sy outentieke straatkos en neonverligte strate, ideaal is vir diegene met ’n klein begroting. Wan Chai, die oudste distrik in Hongkong, is omskep in ’n spilpunt vir die kunste en Lan Kwai Fon is bekend vir sy klubs en naglewe.

 

WegReis sê

Besoek die sjarmante Aberdeen-vissersdorpie vir ’n heel ander ervaring van Hongkong. Daar sal jy outydse tweedehandse items, seekosmarkte, drywende restaurante, ’n bekoorlike hawe en sampanritte kry. ’n Luukser maaltyd in ’n drywende restaurant kan gevind word by Tai Pak of die Jumbo Floating Restaurant. Geniet ’n drankie by hierdie beroemde paleise uit die 1950’s of bederf jouself met ’n negegangmaal... met pryse wat daarby pas. En jy moet Hongkong beslis nie verlaat sonder om minstens een staptog te doen om die afgesonderde strande, die ongerepte natuur en die asemrowende uitsig te verken nie. The Dragon’s Back (’n 8,5 km-gedeelte van die 50 km-Hongkong-roete) is een van die bekendste staptogte, maar daar is baie opsies, van maklike beginner-staptogte tot uitdagender staptogte wat ’n volle dag kan duur.