1
hoeveel mense? Maak alles skoon
 
 
1 Alle Vlugte Kies Klas
  • Alle Vlugte
  • Slegs direkte

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon
Retoer
Eenrigting
Multistad
Vertoon meer
datums
 

Inligting

Met sy reënwoude, berge, spierwit strande en turkoois seewater, kan jy verstaan hoekom Suid-Afrikaners dol is op dié eiland in die Andamanse See. Boonop kan jy jou Suid-Afrikaanse rande ver rek in Thailand. Suid-Afrikaners doen op die lughawe aansoek vir ’n visum, wat dit die ideale bestemming maak vir ’n vinnige wegbreekvakansie.

 

Vlugte

Jy kan uit Kaapstad of Johannesburg na Phuket vlieg, maar jy sal iewers moet oorklim – meestal in die Arabiese Emirate, Hong Kong of Singapore. Die groot lugdienste (Qatar Airlines, Etihad, Emirates en Cathay Pacific) vlieg almal na Phuket- Internasionale Lughawe (HKT), wat drie terminale het. Die nasionale lugdiens Thai Airways en laekostelugdienste soos Lion Air bedien ook hierdie lughawe.

 

Kyk en Doen

Vergeet van geskiedenmismuseums en kunsgalerye – jy kom Phuket toe vir die strande! Hier is meer as 30 strande, sommige spierwit en uitgestrek, en ander in pragtige weggesteekte baaitjies. Swem bedags in die helderblou water en laat die sonsondergang jou asem wegslaan. Onderneem vanaf Phuket ’n dag-uitstappie na die bekende Phang Nga-baai om die kalksteenkranse en rotsformasies te sien, of na Koh Tapu – die “James Bond-eiland”. Maya Bay is weer bekend gemaak in die fliek The Beach, maar is tans gesluit om die brose ekosisteem geleentheid te gee om te herstel. Jy kan egter steeds die Phi Phi-eiland besoek. Vir die mooiste uitsig oor die eiland, ry na die reuse- Boeddha-standbeeld op die Nakkerd=heuwels wat uitkyk oor Chalong, Kata en Rawai. Die Boeddha-beeld is 45 meter hoog en met marmer bedek. Die FantaSea is die grootste vermaakkompleks op die eiland en bied vertonings, speletjiesale en restaurante.

 

Inkopies

Central Festival, ’n winkelsentrum wat oor verskeie vloere strek en tophandelsmerke soos Zara en H&M insluit, is ’n goeie keuse as die reën jou die dag van die strande afjaag. Daar is ook die Jungceylon-winkelklompleks met meer as 200 winkels. Oorkant Patong-strand is die Banana Walk, ’n stylvolle winkelsentrum. Besoek ook die straatmarkte in die Phuket-loopstraat. Die Naka-mark vind oor naweke aan die buitewyke van die stad plaas en is ’n gewilde plek om tweedehandse ware te koop! Karon Bazaar, tien minute se loop vanaf Karon-strand, is ’n goeie keuse vir tradisionele Thaise produkte.

 

Vervoer

Songthaews lyk na iets waarin die WegSlepers sou kon kamp, maar dis omgeboude bakkies wat as taxi’s tussen die strand en die dorp gebruik word. Daar is ook ’n gewone busstelsel en motorfietstaxi’s. Busse na en van Bangkok en ander Thaise stede kom by Busstasie 2 BKS-terminaal aan. Die stasie word met die stad verbind met tuk-tuks, meter-taxi’s, motorfiets-taxi’s, songthaews en plaaslike busse. Die gewone meter-taxi’s is taamlik duur, maar vra ’n standaardtarief tussen stede. Die locals beveel Grab aan, ’n vervoerdiens soortgelyk aan Uber. In 2020 begin die tenderproses om ’n tremstelsel in Phuket te ontwikkel. Die projek sal na verwagting binne drie jaar afgehandel word. In Fase 1 sal die lughawe met Chalong verbind word (sowat 40 km). Daar is daagliks veerbote na Phi Phi en Koh Lanta.

 

Verblyf

Vyfsterhotelle, romantiese villas by Andara Resort Villas in Kamala, of die Banyan Tree Phuket, hier is iets van alles – selfs bekostigbare jeugherberge. Phuket het oorgenoeg infrastruktuur vir die miljoene besoekers wat jaarliks hierheen stroom. Patong is een van die gewildste toeristebuurte, vermy dit dus as jy rus en vrede soek. Karon is effens rustiger en het ook ’n lekker klompie winkels en restaurante. Rawai is ’n goeie keuse vir ’n wittebroodsreis, terwyl Kata-strand ideaal is vir gesinne. Kamala (die tuiste van FantaSea) is ook ’n goeie keuse vir gesinne. Nog ’n stil buurt is Nai Yang, wat naby aan die lughawe is. Bangtao-strand is ’n versteekte juweel en langs Surin-strand, oftewel “Millionaires Row”, kry jy ’n hele klomp luukse hotelle.

 

WegReis sê

Gaan snorkel by Ao Sane, Paradise Beach, Kata Noi, Ya Nui of Laem Ka. Die strande is fenomenaal, maar as jy soos ’n kreef verbrand het, neem ’n breek en besoek die ou stad van Phuket. Hier kan jy jou verwonder aan die mengsel van koloniale en Chinese boustyle, sowel as die Sino-Portugese geboue wat uit die vroeë 1900’s dateer. In die pragtige geboutjies sal jy verskeie winkels en restaurante aantref.