1
hoeveel mense? Maak alles skoon
 
 
1 Alle Vlugte Kies Klas
  • Alle Vlugte
  • Slegs direkte

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon

Gaste

Kamers

Kies hoeveel kamers Maak alles skoon
Retoer
Eenrigting
Multistad
Vertoon meer
datums
 

Inligting

Dis ’n stad waar jy kan “varkoor gooi” en skelm gesprekke op die trem of in die pannekoekwinkel kan afluister, waar jy jou kan verlustig in die pratige tulpe, kaas kan proe en stadig aan jou “koffie verkeerd” (koffie met melk) kan teug en die mense kan dophou. Dis ’n stad waar Afrikaanssprekendes tuis voel! Suid-Afrikaners het ’n Schengen-visum nodig om Nederland te verken en kan die VFS-visumdiens in Kaapstad, Johannesburg, Pretoria of Durban gebruik.

 

Vlugte

Danksy direkte vlugte op KLM vanaf Kaapstad en Johannesburg is hierdie Europese kanaalstad binne bereik. Ander lugdienste wat vlugte vanaf Johannesburg, Kaapstad, Durban, Oos-Londen en George bied, sluit in Turkish Airlines, Lufthansa, Qatar Airways, Emirates en British Airways. ’n Direkte vlug vanaf Johannesburg na Amsterdam neem sowat 11 uur 40 minute, en vanaf Kaapstad 11 uur 55 minute. Die vlug sal natuurlik langer wees as jy aansluitingsvlugte nodig het. Direkte vlugte kos meestal meer as dié wat via Doebai, Doha of ’n Afrika-stad vlieg, maar jy kry van tyd tot tyd lekker afslagvliegkaartjies. Vergelyk die pryse van KLM, Emirates, Etihad, Lufthansa, Qatar en SAA. Schiphol is Amsterdam se vernaamste lughawe en sowat 20 km buite die stad.

 

Kyk en Doen

Die Rijksmuseum, Van Gogh-museum en die Anne Frank-huis is van die topmuseums ter wêreld, maar hier is ook lekker dinge om te dóén: Huur ’n fiets en ry soos die locals langs die kanale, pak ’n piekniek en kuier heerlik in die Vondelpark, en eet kos op ’n straatmark wat jou aan die huis sal herinner. Jy kan ook ’n daguitstappie na die tulpparadys van Keukenhof onderneem (wat oop is vanaf einde Maart tot middel Mei). Die meeste kanaalbootvaarte neem sowat ’n uur, maar jy kry ook spring-op-spring-af-opsies of romantiese bootritte met kersligetes. Blue Boat, Stromma en Lovers is van die bekendste bootoperateurs in die stad. Die Hollanders is dalk nie bekend vir hul bydrae tot die wêreld se koskultuur nie, maar jy sal nietemin smul aan tradisionele eetgoed soos stroopwafels, krokette, frites (aartappelskyfies) wat met mayonnaise geëet word, poffertjies en bitterballen (’n kruis tussen ’n frikkadel en ’n schnnitzel). Gaan op ’n georganiseerde kostoer, of stap in by die plaaslike supermarkgroep die Albert Heijn. Die Foodhallen is ’n binnenshuise kosmark en gewild by fynproewers.

 

Inkopies

As jy na die luukse handelsmerke (of ’n gratis toilet!) op soek is, draf in by De Bijenkorf op Dam-plein, ’n afdelingswinkel wat oor verskeie verdiepings strek. Die P.C. Hoofstraat verkoop weer handelsmerkitems van Chanel, Louis Vuitton en Ralph Lauren. Vir ’n eg Nederlandse ervaring, drentel in die hart van die stad se kanaalbuurt – De Negen Straatjes. Hierdie nege strate, wat reeds sedert die 17de eeu so bekend is, is naby aan die Jordaan en vol straatkafees, kunsgalerye, boetieks, juweliers- en antiekwinkels. Ander lekker strate vir boemel is Leidsestraat, Kalverstraat en Haarlemmerstraat.

 

Vervoer

Vanaf Schiphol kan jy op drie maniere na die stadsentrum reis: per taxi, trein of bus. Die vinnigste manier is per taxi, sowat 15-20 minute. Nederland se openbare vervoer is egter ’n groot plesier en die treinrit na Centraal Station is ook sowat 20 minute. ’n Busrit is waarskynlik die goedkoopste, maar sal sowat 35 minute duur. As jy eers in die stad is, is ’n fiets waarskynlik die beste manier om Amsterdam te verken. Daar is plekke waar jy ’n fiets kan huur. As jy nie hare op jou tande het nie, sluit by een van die georganiseerde fietstoere aan. Die trem-, bus-, trein- en veerbootstelsel binne die stad is uitstekend. Met ’n I Amsterdam City-kaart kry jy onbeperkte toegang tot die openbare vervoerstelsel, sowel as afslagtoegang by die stad se museums en besienswaardighede.

 

Verblyf

JVerblyf is volop in Amsterdam en sluit die hele spektrum in: Van luukse vyfsterhotelle tot woonstelle op Airbnb wat elke begroting sal pas. Hoe nader jy aan die sentrum kom, hoe duurder raak die verblyf meestal. As jy jou rande wil rek, soek na verblyf in Oud Zuid – ’n sentrale maar bekostigbare buurt. Oud Zuis huisves Museumplein en die inkopiearea rondom P.C. Hoofstraat. As jy ’n bietjie meer aksie wil sien, oorweeg ’n blyplek in die Jordaan of De Pijp – albei is bietjie minder van ’n toeristevertrapping as die ou hoofstad. As jy saam met kinders reis, loop draaie om De Wallen, die bekende rooiligbuurt.

 

WegReis sê

As jy iets van die alledaagse lewe van Nederlanders wil beleef, besoek die Albert Cuyp-straatmark. Dis die grootste dagmark in Amsterdam en die ideale plek om Hollandse lekkernye soos stroopwafels of poffertjies te proe. Met meer as 300 stalletjies, sal jy feitlik enigiets hier kry: Hier word tweedehandse klere en fietse langs die stalletjie met aartappelvariëteite verkoop! Hier is ook kase by die duisende, en al wat ’n vissoort en vleissnit is. Proe die plaaslike kaas en die haring! Die indrukwekkende Royal Concertgebouw op Museumplein dateer uit 1888 en bied dikwels gratis middagetekonserte op weeksdae aan.